Ons leefruimtes of huise is verlengstukke van onsself. Só word die persoonlikhede en voorkeure van die inwoners direk weerkaats met die verfkleure, kunswerke en meubels wat in ons tuistes is. Interieurtendense is ook deesdae heelwat “losser” en nie meer so beperkend nie. Die dae is verby dat die gordyne, verfkleur teen die mure en meubels byna alles in dieselfde skakerings gedoen is.
Huidige tendense laat baie vryheid en individuele smake toe:
- Verskillende teksture in dieselfde vertrek is altyd ’n wenner, byvoorbeeld ’n leerbank gekombineer met twee gemakstoele in stoffeermateriaal met tekstuur.
- Teksture op mure word maklik met verftegnieke soos kleurwas (“colour washing”) verkry. Verf bly ook jou goedkoopste opsie vir vinnige verandering.
- Plakpapier is tans hoogmode en kan tegelykertyd kleur en tekstuur bybring. ’n Dinamiese plakpapier trek aandag en kan maklik ontwerpersfoute, bv. vertrekke en vensters wat te klein is, verbloem.
- Tans is daar ’n neiging om te fokus op plaaslike kuns, bv. handgemaakte keramiek of weefwerk om ’n persoonlike stempel op die interieur af te druk.
- Die trefkrag van isolasie moet nie onderskat word nie – byvoorbeeld slegs een enorme kunswerk teen ’n muur in plaas van tien klein kunswerkies.
- Bruin, in al sy variante, is die nuwe “grys” – van roomkleurige tot karamel tot sjokoladebruin ondertone.
- Terracotta in vloerteëls, in plaas van grys, is weer in die mode. Terracotta het ook ’n natuurlike aardsheid wat pas by ons omgewing van berge, see en strande.
Kortom is individuele smake en persoonlikhede, leefstylvoorkeure, interieurneigings en begrotings maar ’n paar van die faktore wat keuses oor jou huis se interieur sal beïnvloed.

“Learn to look not just with your eyes but with your heart. Find the things that connect with you. How else will you know how to design your home?” Kelly Hoppen
Bygedra deur inhoudsvennoot: Heleen Coertze van HC Interiors


Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.